• Panel 00.jpg
  • Panel 00a.jpg
  • Panel 00b.jpg
  • Panel 00c.jpg
  • Panel 00D.jpg
  • Panel 01.jpg
  • Panel 01a.jpg
  • Panel 01aa.jpg
  • Panel 01b.jpg
  • Panel 02.jpg
  • Panel 02a.jpg
  • Panel 03.jpg
  • Untitled-1.jpg

Hierdie artikel waaraan ek deelgeneem het is in HUISGENOOT van 11 Maart 2021 geplaas.

HOEKOM IS DIT BELANGRIK VIR VOLWASSENES OM TE SPEEL PRET TE Hê EN SPONTAAN TE WEES?

As volwassenes in ons volwasse committed verhoudings het ons nodig om veilig en in konneksie met ons maat te voel en ook te voel dat ons aanvaar word.  Paartjies wat veilig voel by mekaar is meer emosioneel oop vir mekaar, speel meer met mekaar en dit is vir hulle dus makliker om in konneksie te wees en met empatie na mekaar te kyk.  

Deur saam pret te hê assosieer mens mekaar met genot, vriendskap, vertroue en positiwiteit.   Wanneer twee mense op mekaar verlief raak is hulle eintlik experts in speel, jy hoef maar net na ‘n verliefde paartjie te kyk en jy sal sien hoeveel eiesoortige, spontane en unieke speelsheid en pret hulle met mekaar het. Nadat mense trou verloor hulle dikwels hierdie speelsheid.  

Pare in gelukkige, stabiele verhoudings het rituele en pret tye wat hul verhouding identifiseer en betekenis gee aan hulle saamwees tyd.  Hulle neem saam deel aan en beplan aktiwiteite en pret wat hulle na aan mekaar laat voel; dit kan byna enigiets wees, solank albei partye dit geniet.

WATTER VOORDELE HOU DIT VIR MENSE IN?

Om saam te speel en pret te hê bring ‘n gevoel van veiligheid in die brein, maar hoe werk dit?

Liggamsfunksies wat outomaties gebeur (bv hartklop, asemhaling, vertering van kos) is onder beheer van die breinstam, hierdie gedeelte van die brein kyk primêr uit vir gevaar; want as ons in gevaar verkeer loop ons die risiko om nie te oorleef nie.  Dus sal ons op gevaar reageer deur te veg, te vlug dood te speel, weg te kruip, te vries of toe te gee.

MAAR as die brein veilig voel in die geliefde se teenwoordigheid sal ons met mekaar speel, pret hê, spontaan wees, intiem wees, kreatief wees en saam werk.  Dus voel verliefde paartjies veilig by en met mekaar en daarom gee hulle vir mekaar spontaan wat nodig is en sal hulle gevolglik mekaar versorg, moeite doen met mekaar, baie gereelde en intense seksuele tye saam hê of hernude belangstelling in hul kreatiwiteit en werk toon.  Kortom, hulle sal meer speel en pret hê.

HOEKOM DINK EK VERGEET VOLWASSENES DIKWELS OM PRET TE Hê EN SPELERIGHEID EN SPEELSHEID DEEL VAN HULLE ALLEDAAGSE LEWE TE MAAK?

Wanneer romantiese liefde vervaag - en dit is gewoonlik die natuurlike verloop van ‘n verhouding, want romantiese liefde moet plek maak vir ‘n volwasse bewuste verhouding – begin die brein se “gevaar” respons meer dikwels inskop.  Dit is dan wanneer mense veg, vlug, vries, wegkruip, dood speel of toegee.

Johan en Katrien (Skuilname) het op universiteit ontmoet en het alles saam gedoen vir drie jaar.  Hulle was sò verlief dat hulle van hul vriende afgesterf het net om tyd met mekaar te kon spandeer.  Hulle het saam lang ente gaan stap, dou voor dag opgestaan om na die sonsopkoms te kyk, saam pluimbal gespeel, klein geskenkies en verassings vir mekaar gegee en was altyd liefdevol, vriendelik en opgewonde om mekaar te sien.  Nadat hulle gegradueer het was hulle gereed om as gtroude paar die lewe aan te pak.  Ongeveer ‘n jaar  na die troue was beide werksaam by groot maatskappye en het hulle begin om die sukses leer te klim.  Om dit vol te hou moet mens noodwendig lang ure insit en ook soms werk huistoe vat.

Dinge het begin verander.  Hulle het minder en minder tyd saam spandeer, minder pret gehad en minder saam gespeel, maar terselfdertyd steeds van mekaar verwag om dieselfde op te tree (en te voel) as voorheen.  Katrien het agtergekom dat Johan nie meer vir haar blomme gee nie; Johan se respons was “blomme gaan gou dood”.  Aanvanklik kon sy dit nie kleinkry nie, want hy het dikwels in die verlede vir haar blomme gebring.  Sy reken toe dat dit seker maar ‘n fase is en dat dit sal oorwaai; maar dit het nie.  Sy het begin kwaad word vir die manier waarop Johan haar behandel, en op sy beurt het Johan haar gekritiseer dat sy ‘n neulerige vrou is.  Algaande het die konneksie wat daar eers was vervaag en albei het meer diskonneksie begin voel.  Alhoewel haar “neulery” en aggressie vir Katrien oor die kort termyn gebring het wat sy nodig het en effens tevrede gestel het, het Johan gou weer terug gekeer na sy vorige gedragswyse.  Na ongeveer ‘n jaar van probeer om dinge weer te kry soos wat dit vroeër was het Katrien moed opgegee en begin om haar behoefte aan aandag eerder by haar werk en vriende te soek as by Johan; gevolglik het die idee van ‘n affair nie meer vir haar so vergesog gelyk nie.

Pare wat al vir geruime tyd saam is moet verstaan dat romantiese verliefdheid gemaak is om verby te gaan.  Plek moet gemaak word vir ‘n langtermyn volwasse bewuste verhouding.  Hierdie tipe liefde groei uit gedeelde ervaringe, tye waar die paar deur dik en dun saam  staan en as span optree teen die aanslae van die lewe.  Hierdie tipe verhouding lewer seker nie die opwinding van romantiese liefde nie, maar is meer behoefte bevredigend oor die lange duur.     

HOE KAN MENS MAAK OM ‘n SPEELSE ELEMENT IN JOU LEWE IN TE BOU?

In ‘n studie deur verhoudings deskundige John Gottman (1979) het hy bevind dat gelukkig getroude pare een ding in gemeen het:  Daar was VYF positiewe goed wat gebeur vir elke EEN nagatiewe gedrag tussen partye.  Dus moet ons doelbewus energie insit en onsself opstel vir sukses deur die positiewe, insluitend tyd vir pret en speel, en dit wat wel werk in die verhouding eerder vyf keer meer in fokus te bring as die negatiewe.

Gottman. J. (1997). Marital Interaction: Experimental investigation. New York: Academic.

HOE KAN JULLE AS PAARTJIE SAAM SPEEL EN PRET Hê?

Soos wat ons groot word dink ek nie ons verloor ons behoefte om te speel nie, daar is net soveel wat “grootmenswees” vereis  dat ons vergeet dat ons nodig het om te speel. 

Speelsheid gaan hand aan hand met kreatiwiteit wat die verbeelding betrek en eindelose moontlikhede skep.  Verbeelding laat jou deur nuwe oë na dieselfde ding en na jou maat kyk.  Speel bring energie, humor en lag.  Dit skei endorfiene af wat ons laat goevoel en ‘n kettingreaksie van positiwiteit tot gevolg kan hê.

Dus het ons veiligheid nodig, pret en speelsheid om plesier en endorfiene  te vermeerder, maar daar is ‘n vangplek!  JOU MAAT IS NIE JY NIE!

Daar is mos die gesegde wat sê: “Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê” ... ek wil dit verander en sê: “Doen aan jou maat wat jou MAAT wil hê!”  Ons gee dikwels die versorgende gedrag aan ons maats wat ons laat voel dat ons liefgehê word, maar onthou jou maat is nie JY nie en iets anders laat hom of haar dalk geliefd voel.  So, wees bedag daarop en begin om gesprekke te hê rondom aksies, speelsheid en pret wat elkeen van julle op jul eie manier geliefd sal laat voel. Daar is dinge wat julle alreeds reg doen vir mekaar, maar dikwels doen ons nie genoeg daarvan nie, of ons besef nie hoe spesiaal hierdie gedrag vir ons maats is nie  - enersyds omdat ons nie daaroor praat nie en andersyds omdat ons nie regtig luister wanneer my maat my bedank nie.

Een praktiese voorbeeld van hoe jy jou maat kan gee wat hy of  sy graag wil hê is om te luister vir ‘n lukrake leidraad of ‘n “random dropping”.  Dit is opmerkings waaraan jy nie veel aandag gee nie, maar wat jy jou maat gereeld hoor sê.  Julle mag dalk deur die winkels stap en jou maat sê dalk “oee dis mooi oorbelle” of  “ek wou nog altyd hierdie boek lees” of  “ek wonder hoe dit sal voel om op so ‘n date te gaan”.  Maak ‘n nota in jou gedagtes hiervan en gaan terug en gee dit as verassing vir jou maat.  Jy kan nie ‘n fout maak nie, want jy het gehoor dat jou maat daarvan sal hou.  Dit is in der waarheid ‘n goeie idee om mekaar met speel en pret een maal per maand te verras, selfs net die vooruitsig en beplanning daarvan kan die endorfiene laat vloei.

Om te speel, pret te hê en te lag laat jou goed voel.  “Laughter is the best medicine” is ‘n ou gesegde maar bly altyd waar.