“Gaslighting”: 'n Vorm van Emosionele Manipulasie en Mishandeling

Die term “gaslighting” kom van die film Gaslight (1944), waar 'n man sy vrou probeer oortuig dat sy gek is deur haar persepsie van die werklikheid te bevraagteken.  Dit lei daartoe dat sy haarself en haar eie oordeel begin betwyfel. “gaslighting” is 'n vorm van manipulasie wat die slagoffer se selfvertroue, identiteit en persepsie van die werklikheid ondermyn.

In ekstreme gevalle  is “gaslighting” 'n ernstige vorm van sielkundige manipulasie en emosionele mishandeling wat dikwels gepaardgaan met verbale en fisiese vyandigheid/geweld.

In die meeste gevalle is “gaslighting” dikwels 'n magstryd waar die gaslighter sy of haar logika as die enigste geldige persepsie posisioneer. Stellings en beskuldigings is gewoonlik gebaseer op leuens en vergrotings of verdraaiings van die waarheid.  Dit gebeur dikwels deur onredelike argumente en emosionele uitbarstings wat die slagoffer se selfbeeld en oordeel verwring.

“Gaslighting” in Verskillende Kontekste

“Gaslighting” is nie net beperk tot romantiese verhoudings nie – dit kan ook in werkplekke voorkom waar 'n werkgewer gereeld 'n werknemer afkraak, verneder en verkleineer. Dit is belangrik om daarop te let dat nie alle gaslighters hul aksies doelbewus en kwaadwillig uitvoer nie. Sommige mense kan onbewus wees van hul “gaslighting” gedrag weens hul familie se waardestelsel, hul portuurgroep, gemeenskap of die breë samelewing se sosiale norme en vooroordele wat in gemeenskappe of kulture bestaan.

Daarteenoor is daar “gaslighters”wat heeltemal bewus is van hul manipulasie en dit doelbewus aanwend om 'n magstruktuur te skep wat hulle bevoordeel. Hierdie individue is dikwels onredelik, veroordelend, narsisisties, selfgesentreerd en het 'n opgeblase selfbeeld. Hulle gee nie om vir ander nie en gebruik mense om hul eie selfbeeld en mag in stand te hou

Die Gevaar van “Gaslighting”

Die gevaar van “gaslighting” lê daarin dat dit jou geestesgesondheid en selfbeeld só ver kan verwring dat jy twyfel aan jou eie persepsie en oordeel. Dit kan lei tot 'n situasie waar jy, ondanks swak behandeling, steeds op soek is na die “gaslighter” se goedkeuring en erkenning. As gevolg hiervan kan jy dalk die skuld vir die “gaslighter” se gedrag op jouself neem en voel asof daar iets fundamenteel verkeerd is met jou, wat die “gaslighter” se mag verder versterk.

'n Belangrike kenmerk van “gaslighting” is dat die “gaslighter” jou voortdurend herinner aan jou gebreke en swakhede. Hulle erken nie hul eie foute nie en raak dikwels aggressief wanneer hulle gekritiseer word, of wanneer hul eie foute uitgewys word want dit beinvloed sy siening van hom/haarself negatief.

 Hoe om “Gaslighting” te Hanteer

Wanneer jy wonder of jou verhouding “gaslighting” insluit, is dit belangrik om jouself die volgende vrae te vra: Is die verhouding werklik bevredigend?  Hoe voel jy oor jouself in die teenwoordigheid van hierdie persoon? Ondersteun hy/sy jou? Is daar intiemiteit en empatie in die verhouding? Bly ek in die verhouding ter wille van die kinders of my geloof? Dink ook na oor die emosionele en finansiële beleggings wat jy in die verhouding gemaak het en wat die toekomstige alternatiewe is. 

Die sleutel om “gaslighting” te oorkom lê egter in jou ingesteldheid. Deur jou ingesteldheid te verander, kan jy die emosionele impak van “gaslighting” verminder. Dit vereis geduld, selfbewussyn en 'n goeie begrip van die gaslighter se “streke”. 'n “Gaslighter” sal dalk selfs soms vriendelik wees of jou goed behandel (veral voor ander mense), maar dit is belangrik om nie vir hierdie oomblikke te val nie. Wanneer jy die “gaslighter” se gedrag verstaan en ook jou eie reaksie op die gedrag, sal jy in staat wees om duidelike grense te stel en die manipulasie te weerstaan.

 Selfbemagtiging en Grensstelling

Bemagtig jouself deur kennis van “gaslighting”.  ‘n Goeie bron is Riette Rust se boek Ek, EK, EK. Weet wat om te verwag van 'n “gaslighter” se gedrag en indien jy besluit om in so ‘n verhouding te bly, is die sleutel om jou verwagtinge af te skaal en grense te stel oor wat jy bereid is om te verdra. Leer om "nee" te sê en moenie ingee wanneer jy geïntimideer of gemanipuleer word nie.

Onthou, jy is in beheer van jou eie lewe en mense behandel jou soos wat jy hulle toelaat.  Dit is jou reg om gesonde grense te stel en jouself te beskerm teen emosionele misbruik.