Ontdekking van‘n Affair: Moet ek bly of gaan?
Ek gee hiermee erkenning aan die New York terapeut, Esther Perel by wie ek, onder andere, baie van hierdie wyshede “leen”.
Hoe weet ek wanneer my maat moontlik 'n affair het? Daar is drie dinge waarvoor jy op die uitkyk moet wees:
* Geheimsinnigheid
* Emosionele konneksie
* Daar is 'n seksuele ondertoon in die boodskappe wat (in die geheim) gestuur word. Of daar is gedagtes oor die "ander een" wat maklik in 'n seksuele rigting gaan.
Wanneer jou lewensmaat ‘n affair het, maak dit diep seer en vertroue kry 'n baie groot knou, maar die seer kan genees. Aan die kant van die persoon wat die affair gehad het, is daar drie dinge wat gedoen kan word om herstel te bewerkstellig:
· Ontrouheids trauma begin genees as die person wat die affair gehad het erken dat hy/sy optrede die verhouding en die maat se gevoelens skade berokken het. Die vermoë om berou te toon en skuld te erken is noodsaaklik, want dit kommunikeer aan jou maat dat jy omgee, dat jou maat vir jou belangrik is en dat julle verhouding vir jou belangrik is. Dit is wat die verontregte party onmiddelik bevraagteken.
· Word die kampvegter of hekwag, die "vigilante" vir jul verhouding. Beskerm die grense van jul verhouding, neem verantwoordelikheid om oor die affair te praat sodat jou maat nie obsessief daaroor hoef te dink en te raak nie. As jy daaroor praat bevry dit jou maat van die behoefte om aanhoudend die affair “op te bring”, om seker te maak dat die affair nie vergeet word nie; en dit help ook om vertroue weer terug te weef in die verhouding.
‘n Voorbeeld wat vir my uitstaan is my kliente *Wouter en *Sandra. Sandra het ‘n affair gehad in hul vakansie huis by die rivier en elke keer wanneer sy en Wouter na die vakansie huis gaan, maak Sandra seker dat sy “incheck” met Wouter deur te vra hoe dit vir hom is om daarheen te gaan, sy vra of hy “okey” daarmee is. Sy sê ook dat sy weet dit is nie vir Wouter maklik om rivierhuis toe te gaan nie, maar dat hulle daardie plek weer hulle s’n gaan maak; hulle gaan geleidelik nuwe herinnerigne bou en gaan die plek herower sodat elke keer wanneer hul daarheen reis, hy nie hoef te dink aan wat gebeur het nie. Sandra sê ook dat sy verstaan hoe Wouter voel, dit is so logies. Wanneer sy hierdie dinge doen en sê, is sy die kampvegter van die verhouding, sy is die beskermer en haar gedrag sê: “Ek gee om vir ons, ek wil ons help om ‘n nuwe veilige konneksie te bou met mekaar. Ek sien jou” is wat sy sê. Wouter hoef haar nie te herinner aan wat sy gedoen het nie, en dit is noodsaaklik om vertroue te herbou.
· Dit is soms baie moeilik vir die persoon wat die affair gehad het om te aanskou hoe seer hy/sy die maat gemaak het. Jy weet dat jy aanspreeklik is vir hierdie probleme in die verhouding. Dit is belangrik dat jy nie vir jou maat vra om nie hieroor te praat nie omdat jy nie kan verdra om jou maat se pyn te sien wat deur jou veroorsaak is nie. Skep net ruimte vir hierdie gesprekke en moenie dink dat jou maat dit moedswillig doen om jou te irriteer as hy/sy nodig het om herhaaldelik daaroor te praat nie. Onthou die 'sekuriteit' van jou maat se lewe is in twee geskeur deur die affair. Elke keer wat jy herhaaldelik luister en antwoord, skep jou maat ‘n nuwe skakel in die betekenis van sy/haar lewe wat stapsgewys help om vertroue te herbou.
Vir die person wat bedrieg is, is daar ook dinge wat gedoen kan word om vertroue te herstel. As jy toelaat dat jou weetgierigheid die oorhand kry en jou laat “grawe” vir “smerige” detail soos byvoorbeeld: “Hoe gereeld, hoe lank, hoeveel keer, was hy/sy beter in die bed as ek?” Hierdie tipe vrae sal jou van slaap beroof en jou laat regop sit snags en net nog meer pyn bring.
Ja, daar is dinge wat jy moet weet, maar dit is ‘n ander stel vrae, ondersoekende vrae eerder as “speurder” vrae. Sulke vrae kan jou die betekenis en motief van die affair laat verstaan, en jy kan agterkom of dit enigiets met jou te doene gehad het; want dikwels het dit baie meer met jou maat te doen as met jou. Voorbeelde van hierdie ondersoekende vrae: “Hoekom het dit nou gebeur? Wat het hierdie affair vir jou beteken? Het jy aan sons gedink terwyl jy daarmee besig was? Het jy gehoop dat ek sal uitvind? Het jy aan die kinders gedink? Hoe was dit vir jou as jy huistoe gekom het nadat jy daar was? Is jy hier vir my of is jy hier vir die gesin? Wat is vir jou waardevol omtrent ons verhouding? Wat dink jy kan ons saam hieruit leer?” Hierdie tipe vrae kan kalmte bring en gee jou ‘n gevoel van beheer oor jou lewe en jul verhouding.
Ek dink hier aan my kliënt, Pieter. Vrae soos: "Tot watter mate het sy vrou haarself aan die minnaar oorgegee? Het sy seksuele dinge met hom gedoen wat sy nooit met Pieter sou doen nie? Was sy meer vrymoedig, meer oop?”
Hy bel toe die ander man om meer detail te kry en vra die man hierdie vrae. Nou sit Pieter snags regop en beelde flits deur sy gedagtes wat eintlik meer eksplisiet is as wat in werklikheid die geval was. Dit is alles behalwe helend vir Pieter, maar dit is ‘n natuurlike behoefte om meer te probeer uitvind.
Dit gesê, dit is belangrik om sekere vrae te vra maar dit is beter om nie die antwoorde te weet hie. Want as jy eers die antwoorde het, moet jy vir ewig met die gevolge van die wete saamleef. Soms wannneer ‘n person hierdie tipe vrae aan sy/haar maat stel tydens terapie, vra ek of hy/sy wil hê dat die maat moet verstaan dat hy/sy die vrae het, of wil hy/sy regtig die antwoorde op daardie vrae hê.Dit is ‘n kwessie van hoeveel inligting sal jou help herstel en hoeveel inligting kan jou her-traumatiseer.
Een person het ‘n affair, maar twee persone is verantwoordelik vir die skep van vertroue, konneksie en standvastigheid in die verhouding.



