• Panel 00.jpg
  • Panel 00a.jpg
  • Panel 00b.jpg
  • Panel 00c.jpg
  • Panel 00D.jpg
  • Panel 01.jpg
  • Panel 01a.jpg
  • Panel 01aa.jpg
  • Panel 01b.jpg
  • Panel 02.jpg
  • Panel 02a.jpg
  • Panel 03.jpg
  • Untitled-1.jpg

Hoe wen jy weer jou maat se vertroue nadat jy ontrou was deur 'n affair te hê? 

Vertroue is iets wat verdien word, dit is nie iets wat sommer vanself net gebeur nie.   Mens verdien vertroue deur jou gedrag te verander, nie deur net te sê dat jy jammer is nie; dit is iets daadwerklik wat jy sou kon afneem met ‘n video kamera, ‘n tasbare bewys daarvan dat jy wil werk aan dit waarmee jy jou maat so seer gemaak het. 

Ontrouheid maak diep seer, maar vertrou kan herbou word.  Daar is dinge wat die persoon wat 'n affair gehad het en ontrou was kan doen om vertroue te herstel.

Eerstens moet by begryp dat die trauma kan begin genees wanneer jy verantwoordelikheid neem vir jou bydrae tot die nagmerrie.  Jou vermoë om berou te wys en verantwoordelikheid te neem vir die pyn wat jy in jou maat veroorsaak het is noodsaaklik, want dit sê “Ek gee om vir jou; jy maak saak vir my en ons verhouding is belangrik vir my.”  Dit is hierdie dinge wat die verontregte party dadelik bevraagteken.

Tweedens is dit nodig dat die persoon wat die affair gehad het of ontrou was ook die party is wat gesprek rondom die gebeure ondersteun, inisieer en nie wegskram daarvan as die ander party daaroor wil praat nie; sodat  die ander huweliksmaat nie ‘n obsessie daaroor hoef te ontwikkel nie.  Dit verlos hom/haar daarvan om aanhoudend seker te maak dat die gebeure nie vergeet word nie en dit help om vertroue te herbou. 

Die verwoording van jou skuldgevoelens vir die pyn wat jy jou maat veroorsaak het is ook noodsaaklik.  Dit is soms baie moeilik vir die persoon wat die affair gehad het om te sien dat jy die oorsaak is van soveel pyn in jou maat.  Dit is baie belangrik om jou maat toe te laat om daaroor te praat, en dit nie weg te praat omdat jy so skuldig voel omdat jou maat so seer is nie.  Maak geleentheid vir gesprek hieroor  en moenie dink dat jou maat dit doelbewus en moedswilliglik doen om jou te irriteer en te frustreer nie.  Elke keer wat jy weer en weer die antwoorde verskaf, skep dit ‘n nuwe skakel in die verhaal van jul verhouding en jou maat se lewe wat help om vertroue te herbou.   

Bieg jy onmiddellik?  

Dit verskil van persoon tot persoon.  Ondeklere of naak fotos wat gestuur word; of affairs wat gebeur, vind nie plaas omdat dit onaangenaam is nie; maar dit gebeur omdat dit lekker is.  Dikwels hou ons aan met die lekkerte totdat ons uitgevang word, of totdat iets gebeur wat ons dwing om oop kaarte te speel.  Ontrouheid gebeur nie in isolasie nie, maar ‘n “deur gaan oop vir ‘n derde party” omdat daar ‘n wedersydse leegheid beleef word;  jy en jou maat het albei behoeftes wat nie bevredig word nie.   Jy gaan soek dalk nie vir bevrediging van jou behoeftes op ‘n ander plek nie, maar onthou dat jou maat nie jy is nie. Moet jy dit erken of dit net los?  Die waarheid het ‘n manier om uit te kom, al is dit na baie jare.  En as so iets na baie jare eers op die lappe kom, kan dit byna onherstelbare skade aan vertroue veroorsaak.

Sê jy elke dag jy is jammer?  Jy kan jammer sê tot jy blou in die gesig is, maar as jou dade en gedrag nie by jou berou pas nie, is dit vir die ander party betekenisloos.

Hoe lank moet jy jou maat gee om dit verwerk?  Hoe lank is ‘n stukkie draad?  Elkeen het sy eie tempo van verwerking en rouproses.  Soms verwerk mens die proses deur eers twee tree terug te loop voordat jy drie tree vorentoe kan loop, en het die maat wat nie rondgeloop het nie nodig om net weereens te sê hoe seer en kwaad hulle is.  Soms is daar soveel gemengde gevoelens, dat die persoon self nie eers verstaan hoe hy/sy voel nie.  Konflikterende boodskappe kom uit die verontregte se mond, bv. “Ek haat jou, nee ek het jou lief.  Kom hier, gaan weg.  Hou my vas, los my!” 

Hoe raak jy die onderwerp aan?  Dikwels het die maat reeds uitgevind, en wil hy/sy hê dat jy sal verduidelik soos bv. "Wat maak hierdie kondome in jou gym sak?  Ons het dan nie nodig om kondome te gebruik nie?"  Ontkenning is hier baie algemeen, maar dit stel net die moeilikheid uit en uiteindelik moet die waarheid uitkom vir jouself en die ander party.

Hoe moet jy die pad vorentoe aanpak as julle besluit om aan te hou bly in jul verhouding/huwelik? 

Dikwels is die pyn en vernedering so groot dat pare nie daardeur kan werk op hul eie nie.  Dit is dan nodig om by ‘n terapeut wat spesialiseer in verhoudings te gaan sit, en te praat op ‘n veilige manier sodat jy jou maat se hart kan hoor en jou maat jou hart kan hoor.  Soos vroeër gesê, gebeur affairs nie in isolasie nie, maar as gevolg van ‘n wedersydse leegheid.  Hierdie dinge moet in veiligheid met mekaar bespreek kan word  sodat konneksie herstel  en verdiep kan word in plaas van verbreek word.

As die kinders daarvan uitvind, hoe hanteer jy dit? Wat sê jy vir jou kinders?

Eerlikheid is hier weereens die beste opsie, maar hou dit gepas vir die kind se ouderdom.  Erken die fout wat jy gemaak het, maar dit is nie nodig om vir jou kind detail te vertel nie.  Jy kan sê dat julle as ouerpaar hieraan werk, of as julle besluit om uit mekaar te gaan, deel dit ook met die kinders sonder om hulle te oorlaai met julle bagasie.

Hoe vergewe jy jou maat? 

Vergifnis is ‘n proses en dit gebeur nie eensklaps soos ‘n weerligstraal nie, dit beteken ook nie dat jy okey is met wat gebeur het nie.  Elkeen het sy eie tempo van vergifnis.  Dit is ook ‘n baie persoonlike ding en soms regresseer ons op die pad van vergifnis voordat ons vorentoe loop.  Maar dit is ook so dat vergifnis jou kan vrymaak van die kettings wat jou bind aan die insident.  Dikwels sukkel mens om te vergewe en jy drink die gif, maar hoop die nader ou sterf daarvan.   As jy sien dat jou maat werklik berou het oor wat hy/sy gedoen het en jy sien ook dat hul gedrag aanpas by die berou, dink ek dit raak dan makliker om te vergewe.   Jy sal weet dat jy ver gevorder het op die pad van vergifnis, indien jy weer gekonfronteer word met die situasie, of wanneer dit weer opkom in gesprekke,  jy met minder energie en negatiewe emosie daarop sal kan reageer.

Hoe besluit jy of jy jou maat moet vergewe of nie?  Dit bly ‘n persoonlike besluit en keuse.  Vir  sommige mense is ontrouheid ‘n “dealbreaker” en ander voel weer dat die verhouding te betekenisvol is om op te gee; en die gebeure was eintlik ‘n “wakeup call” of wekroep vir dinge wat verkeerd begin gaan het in die verhouding; en die geleidelike diskonneksie wat oor tyd plaasgevind het.   Wanneer mens terugkyk sien baie pare dit as bedekte seën, want hulle besef dat die affair moontlik ‘n simptoom was van diskonneksie en onbevredigde behoeftes aan albei kante.

Moet jy vir jou maat sê hy of sy moet kontak met die ander persoon verbreek of nie?  Weereens is dit ‘n persoonlike keuse, maar ek weet van bitter min verhoudings wat herstel terwyl die ander party nog “op ‘n ander plek speel”.  Wanneer die affair nie beeïndig is nie, kan daar net nie so ‘n diep konneksie terugkom, soos wanneer dit wel beeïndig is nie.  Want die persoon wat die affair gehad het se volle aandag en energie is nodig om die verhouding weer ‘n veilige plek te maak vir die maat.

Hoe moet jy jou woede verwoord? 

Daar sal natuurlik woede, pyn en hartseer wees en die aanvanklike skok sal jou laat reageer met blamering en kritiek en ongebreidelde woorde van woede.  Maar dit bly ‘n goeie idee om in “ek” taal te kommunikeer.  Deur te sê hoe seer jy in jou hart het, sonder om te blameer, kan jy jou maat meer ontvanklik maak om sy/haar vermoë tot empatie te demonstreer.

Is dit sinvol om te dink jy moet dieselfde doen of ‘n soortgelyke optrede gaan jou laat beter voel?  Dit kan moontlik vir jou voel dat jou pyn sal verminder deur jou maat in eie munt terug te betaal, maar  dit bring mens dikwels nie nader aan ‘n oplossing nie.   Dit bring baie maal meer probleme as wat dit oplos, en jy doen dit as vergelding of verdediging teen jou eie pyn; en nie omdat dit regtig is wat jy wil doen nie.  Bly getrou aan jou eie morele standaarde, waardes en aan jouself.

Moet jy vra vir detail van wat hulle gedoen het? 

As jy alles wil weet en dit dan ook hoor kan dit ‘n rolprent in jou kop laat afspeel waar jy beelde in jou verbeelding sien wat soms veel erger is as die werklikheid.  Dit kan jou gesondword proses baie belemmer en uiteindelik ook keer dat julle weer 'n diep konneksie vestig. 

Jy kan egter ondersoekende vrae vra wat jou kan help om die betekenis en motiewe te ontdek oor waarom die affair gebeur het.  Vrae vra soos: “Waarom het die affair nou gebeur?”  “Het jy aan my en die kinders gedink toe jy by hom/haar was?”  “ Watter betekenis het die affair vir jou ingehou?”  “Het jy ooit gehoop dat ek sal uitvind?”  “Wat het deur jou gedagtes gegaan wanneer jy huistoe gekom het?”  “ Is jy hier vir my of is jy hier vir die gesin?”  “ Wat is vir jou waardevol ontrent my en jou verhouding?” en ”Wat dink jy kan ons albei hieruit leer?”  Hierdie tipe vrae gaan jou veel eerder kalmeer en dit gee jou ‘n gevoel van beheer oor jou lewe en verhouding.

As jy op so iets afkom, hoe konfronteer jy jou maat? 

Dit hang af van jou persoonlikheid, waardestelsel, hoeveel keer in die verlede dit al gebeur het en jou eie manier van konflik hantering.  Sommige mense reageer op sulke skokke soos ‘n haelstorm, terwyl ander weer in hul skilpaddop inkruip.  Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier nie, maar mens moet verseker daaroor praat en jou pyn en hartseer in woorde omsit, verkieslik met jou lewensmaat wat gedwaal het. Dit is soms baie moeilik en vehoudings berading kan 'n goeie en veilige platform bied vir hierdie tipe gesprek.

Een persoon het ‘n affair, maar twee persone is nodig om die verhouding en konneksie te herstel en te laat oorleef.